DIE MAN MET DIE TOWER HANDE- JULIE 2012 – Huisgenoot

Deur JACO HOUGH-COETZEE

Click here to view articles: Tower Hande PG1 Tower Hande PG2

HY’S ’N beskeie mens, sê almal wat hom ken. En ontmoet jy hom, sien jy dit dadelik. Dr. Ridwan Mia, die man wat aan die brandslagoffertjie Pippie Kruger amper ’n hele nuwe vel gegee het, sê gou hy is g’n held nie, net ’n gewone dokter wat baie bly is alles het goed afgeloop. Die man het op 36 geskiedenis gemaak met dieeerste oorplanting van gekloonde vel in Suid-Afrika en boonop vir Pippie (3) ’n kans op ’n normale, gelukkige lewe gegee nadat 80 persent van haar vel vernietig is toe brandende vuuraansteker-jel tydens ’n gesinsbraai oor haar gespat het. Maar die plastieseen rekonstruktiewe chirurg meen die ware held in dié verhaal is Anicè, Pippie se ma. Hy het haar daardie Oujaarsaand, nadat hy haar dogtertjie se verskriklike beserings gesien het, op die ergste voorberei. Haar lewe het aan ’n draadjie gehang. “Maar Anicè het bly soek na ’n oplossing tot sy een gekry het. Sy iseen van die min mense wat ek ken wat moed hou.” Sy het nagte lank op die internet gesoek en toe kry sy uitkoms. ’n Mediese laboratorium in Boston, Amerika, kan met ’n stukkie gesonde vel van ’n brandslagoffer nuwe vel kweek om beskadigde vel te vervang. Op sy lessenaar in die Sunninghill-hospitaal in Sandton is ’n besonderse aandenking: ’n metaalblikkie met ’n deurskynende deksel, een van die 41 blikkies waarin Pippie se gekweekte vel van Amerika af gevlieg is. Hy is net dankbaar hy kon ’n skakel in ’n groot mediese ketting wees, sê hy. “Ek het nooit daaraan gedink dit sou ’n eerste wees nie. My gedagtes was net by die operasie se beplanning. Niks mag skeefgeloop het nie.”